Allgunstuff Forum

Hunting => General Hunting Discussion => Topic started by: Tripodmvr on Jun 22, 2025, 07:44 PM

Title: Jagters van Malmesbury
Post by: Tripodmvr on Jun 22, 2025, 07:44 PM
Ou storie, maar goed geskryf en kostelik beskryf.

Die manne van Malmesbury – "Graspolinnihol-jagspan".

Ons almal ken mos daardie opwinding en uitdagings wat met 'n eerste jag op 'n vreemde plek saamgaan. Daardie onsekerheid oor wat jy kan verwag wanneer jy daar aankom en of jou gasheer darem 'n redelike mens sal wees, al dan nie. Hierdie afwagting is egter niks in vergelyking met dit wat jy as gasheer moet deurgaan nie. As jagters is julle darem 'n span, maar as gasheer is jy gewoonlik alleen. Jy weet, van die span manne wat daar moet aankom, net mooi niks. AI wat jy ken is die "spokesperson" en dit ook maar ook net oor die foon. Verder sien jy op die selfoon die deposito is inbetaal soos ooreengekom. Sover so goed, totdat jy op jou bankstaat die deposito identifiseerder raaklees. Die geld is inbetaal vanaf 'n rekening met die naam "Graspolinnihol-jagspan". Dan begin jy wonder en weet glad nie wat om te verwag nie. Jy begin regmaak vir onheil direk vanaf die duiwel se dansvloer.

So sit en wag ek een Donderdag, op die plaas, vir einste die span. Die manne van Malmesbury wat wil kom spingbok skiet, hier by ons in die Karoo. Hulle het laat weet hulle behoort teen 12 uur te arriveer. Dan wil hulle gaan afpak, inskiet en bietjie rondgery word om die "lê-van-die-land" te besigtig. Net sodat hulle darem weet waarvoor hulle in is. Dit alles in een middag, maar ek sit nog so ingedagte toe Amos, my regterhand op die plaas, beduie hy sien hulle stof aankom. Ek laat hom solank die plaaswerf se hek oopmaak.

Vrou kry die eet- en drinkgoed op die stoep reg want die manne kom ver. Nie lank of 'n groot 4x4 bakkie trek in. Natnuut. Toe die manne die deure oopmaak toe ruik dit nog pure "showroom". Drie manne klim uit en dit pla my want hulle sou vier man gewees het. Hier by ons is vier man reeds te min, maar drie werk glad nie. Ons groet en op my vraag na die vierde man beduie hulle net so na die bakkie se agterste sitplek Teen die ruit van die regter agterdeur druk 'n redelike gesette wang homself plat soos wat sy eienaar oopbek sit en slaap. "Suiker", beduie die een. "Te hoog". Eers dog ek Suiker is sy naam, maar vind toe uit dit is sy mediese toestand. Blykbaar 'n ou kwaal en die res van die span steur hulle nie veel nie. Volgens hulle maak die blote uitsien na die jag dat die man se eet- en drinkgewoontes so drasties verander dat sy suiker hom oorneem. Gelukkig het die nodige medikasie saamgekom, maar dit maak hom glo vreeslik slaperig. Dit is nou hoekom hy lyk soos hy nou lyk, verduidelik hulle. Ek sien in my gedagtes al hoe die man daar agter in daardie bakkie loop dood sonder dat iemand dit agterkom, want hy roer nie. En plek vir opblaas is daar ook nie veel nie want hy maak die sitplek redelik vol van homself.

So groet ons en staan stoep se kant toe. Ek het intussen darem nou al vir Spokesperson aan sy stem erken. Die res stel hulle voor, maar met name is ek nie goed nie. By die stoep aangekom stel ek vir Vrou aan hulle voor en sy vra sommer dadelik verskoning vir haar hees stem wat sy oorgehou het van 'n ontydige verkoue. Is toe dat die maer enetjie, met die kuite soos 'n Indiese Minah vir Vrou die raad gee om met bruinsuiker te snuif. Vrou wat al raadop was, luister aandagtig en vra of hy regtig dink dit sal help. Nee, beduie hy, dit weet hy nou nie, maar dit maak darem dat jou verkoue soeter proe. Kyk, ek was klaar om hom maniere te leer toe die ander twee dit gelukkig namens my doen en hom mooi verduidelik dat hy nou uit plek is. Ek los dit daar. So onder die eet en drink probeer ek tog gou vir elkeen 'n naam kry wat ek kan onthou, want anders gaan dit sukkel.

Spokesperson het homself gedoop en Suiker is ook maklik. Die maer een doop ek sommer Kuite. Ai, die man moet eerder langbroek dra, dink ek. Is dan nou winter, maar sien ook dat die suidewind waaragtig skraal sal moet wees om hom raak te waai. Ek besef ook dat sy onderstel dalk nie die ekstra gewig van 'n langbroek sal kan vat nie. Die vierde kort spanlid sukkel om 'n naam te kry. Dit is so 'n kort stewige kerel met 'n redelike prominente rooi neus en ewe prominente brei aan hon. Ek oorweeg Boland oor die brei en Rudolph oor die neus, maar toe gaan daar 'n lig op. Tuindwerg. Dit word sy naam want hy lyk soos hierdie sement dwergies in sommige mense se tuine.
Title: Re: Jagters van Malmesbury
Post by: Tripodmvr on Jun 22, 2025, 07:45 PM
Die manne van Malmesbury – Deel 2

Of die manne gaan regkom met 'n geweer saam weet ek nie, maar dit sal die skietbaan ons baie gou leer. Amos gaan wys die manne waar die jaghuis is en nie te lank nie of hy is terug. Redelik bekommerd. Hy verduidelik almal het afgepak en ingetrek, maar daardie man op die agterste sitplek sit nog net "dieselle". Hy vermoed die man is dood want die ander praat nie met hom of help hom uit die bakkie nie. "Hy roer ook nie vanself nie", beduie hy verder. Hy sit nog net so platwang as toe hy hier aangekom het Ek vra of die bakkie darem in die koelte staan want as Suiker daar agter in daardie bakkie gaan begin gis kan dit 'n lelike besigheid afgee. Vrou is steeds nie lekker met Kuite oor sy boereraat nie en ek moet mooipraat om die vrede te bewaar. Watse soort mense nooi ek dan nou plaas toe? Opslag my skuld. Soos gewoonlik.

Teen kwart oor drie stop ek by die jagtershuis en beduie ons moet skietbaan toe. Net Suiker is gereed, want hy sit nog steeds waar hy was en niks van hom is nog afgelaai nie. Die res skarrel en skrop eers vreeslik voor ons daar wegkom. Kuite is eerste op die skiettafel en skiet met niks minder as 'n 300WM nie. Hoe groot dink hy is 'n springbok, wonder ek, maar met sy lyfie lyk alles seker baie groter as vir normale mense. Hulle pak sy geweer en homself met soveel sandsakke vas dat net die loop later uitsteek. Toe die skoot loop lyk dit soos 'n ontploffing in 'n wolsak. Alles trek in alle rigtings en ek kyk of hy nie seergekry het nie, maar geen teken van vrees is op Kuite se gesig nie en nadat ons alles teruggedra het tafel toe maak hy reg vir die tweede skoot. 'n Presiese weergawe van die eerste skoot behalwe dat Kuite nou hoof voorsitter van die halfmaanklub word. Hy bloei briekloos en probeer dit stop met sy sakdoek. Die res gaan ongestoord voort om alles weer op die skiettafel terug te kry. Sy geweer se "in" het hy voor die tyd beduie, sit twee en 'n halwe duim hoog op 100 meter en toe die teiken aankom is dit presies so. Die sakdoek wil egter nie die bloed stop nie en ek merk op sy bloed is waaragtig net-net dunner as huisparafien en ek vermoed ek weet hoekom. Seker al die "soet verkoues" wat hy al moes trotseer. Toe weet ek sommer ek sal hom moet dokter en stuur vir Amos bakkie toe om die "mersyne" tas te loop haal. Daar het ek net wat hy nou nodig het - staaldruppels. Lennon se staaldruppels. Toe Kuite sien ek haal die botteltjie so tussen die skaapspuite uit is hy eers steeks vir die behandeling, maar toe ek beduie hierdie staaldruppels sal sommer ook help dat daar nie 'n lelike letsel bly nie, toe gee hy maar in.

Ek maak hom sit op hulle 4x4 se staal buffer met sy kop agteroor op die masjienkap. Ek beduie hy moet nou die sakdoek gebruik om sy oog toe te hou dat die staaldruppels nie daarin beland nie, en ek begin gooi. Ruimskoots en vrylik Ons hier is mos bekend vir mededeelsaamheid. Amos wat ook al die behandeling gehad het, trek so 'n skewe gesig, druk sy eie oë en ore toe en staan 'n paar treë eenkant toe. Ek het net begin wonder of die staaldruppels dalk verslaan het toe daar lewe in Kuite kom. Hy vlieg op en skreeu dat die vlaktes antwoord gee. Hy skop die bakkie se voorwiel terwyl hy aanmekaar met albei vuiste op masjienkap slaan en aan die ysterbuffer ruk en pluk. Hy gaan so aan dat ek weer op die botteltjie kyk net om seker te maak dit is net staaldruppels en nie iets anders nie. Met die afkyk na die bottel toe gebeur dit. Suiker kom met agterdeur en al uit daardie bakkie en daar trek hy. Waarheen weet net hy. Ons is almal half uit die veld geslaan en uit pure verwardheid skreeu ek vir Amos om hom te vang, want in sy toestand kan hy homself sleg seermaak. Toe loop daardie Suiker eers los. Amos kry hom nie gevang nie, maar keer hom met so 'n lang draai terug na ons toe. Dit kos ons om hom fisies te stop om hom tot stilstand te bring. Hy is so bleek soos die dood, sy asem jaag verwoed en sy oë is heel verwilderd. Ons kalmeer hom so goed ons kan en Tuindwerg bring vir hom so 'n bruinerige kalmeermiddel wat hy met Coke en ys meng. Seker iets vir die suiker dink ek, maar toe Kuite ook een van die mengel-medisyne wegslaan is ek nie meer seker waarvoor dit moet help nie. Ons maak Suiker sit en vra wat op aarde in hom gevaar het en hy begin verduidelik. Hy het glo gedroom hy was besig met die geveg by Bloedrivier. Die droom was so eg, beduie hy dat hy selfs die skote van die ander manskappe hier langs hom duidelik kon hoor. Hier loop sy Bloedivier toe ietwat anders. Die vyand breek deur en begin toe om die "ossewa" onder hom af te breek. Hulle skreeu en slaan en ruk so aan sy ossewa dat sy moed hom begewe en hy besluit om te hardloop. Vir 'n oomblik het hy gedink hy gaan wegkom, maar toe hy omkyk sien hy een van die vyand is besig om hom te voet in te haal. Is toe dat hy besef nou hardloop hy vir sy lewe. Die volgende wat hy weet is toe ons hom hier voorkeer.

Die res van die span is besig om hulle onkapabel te lag en ek kyk met nuwe bewondering na Lennon se nederige ou botteltjie. Nie net het dit Kuite se bloed onmiddeliik gestop nie, maar ook vir Suiker uit die dode opgewek. Ek moet nog hiervan kry. Spokesperson wil weet wat op aarde ek op Kuite se oog gegooi het, maar toe hy wil weet waar hy daarvan kan aanskaf, dink Kuite nie hy is snaaks nie. Skielik staan Suiker op en beduie hy het 'n nood van weergalose proporsies en ons moet hom asseblief verskoon. Dit kon enige mens verstaan.

Toe is dit Tuindwerg se beurt op die skiettafel. Hy skiet 303 maar die een lyk of sy normale gebruik is om hoekpale mee in te kap. Hy vra ook of hy sy teiken, 'n skoon A4 bladsy, 50m toe kan skuif. Ek hou hom dop. Hy haal ses patrone van drie verskillende soorte uit, druk dit in die 10-skoot magasyn se keel af en lê aan. Na die ses skote gaan ons teiken toe en Tuindwerg tel hulle. "Al ses in die kol", beduie hy trots en ek kan sien hy kry sy 303 weer van vooraf lief. "My ou staatmaker", se hy en streel die kolf met 'n sagte hand. Ek is egter erg bekommerd want 50-meter springbokke is hier nie op hierdie plaas nie, maar troos my daaraan dat hy op die normale afstand hulle nie eers sal kan kwes met hierdie soort A4-kolskote op 50m nie. Spokesperson skiet volgende met 'n 243 en sy skote is presies.

Ek beduie vir Amos om te begin oppak, maar wat dan van Suiker, wil almal toe weet. Ek skrik by die hoor van sy naam, want hy is al lankal hier weg om 'n draai te loop, maar ek was verniet bekommerd, Suiker sit al lankal weer platwang vas aan die slaap op die bakkie se agterste sitplek. Ek vra of hy dan kapabel genoeg sal wees om te kan skiet en hulle beduie hulle sal hom help. Hulle verstaan al hoe. In 'n japtrap het hulle vir hom die skiettafel volledig opgestel, patrone gelaai, met die slot oop en die teiken op 200meter. Toe dat Tuindwerg gaan probeer om Suiker wakker te kry. Die groot skrik van vroeër het blykbaar geen effek nie want die keer vat hy stadig. Hy kom met sulke halfmas oë by die skiettafel aan en gaan sit agter die geweer sonder om aan iets te raak. Ek hou hom sekuur dop hier van agter die jagbakkie se masjienkap want geen mens weet in watter fase van Bloedrivier veg hy nou nie. Toe praat Spokesperson: "Drie skote, 200meter. Die slot is nog oop", kom die opdrag. Suiker skuif hom so effe reg, druk die slot toe, skiet die drie skote binne sestig sekondes, maak die slot oop en los dit oop. Hierdie groepering wil ek sien al is dit die laaste ding wat ek doen. Almal stap vorentoe. Daar aangekom sien ek net een gat in 'n klawer formaat. Los onder 'n duim! Ek draai om, om blad te steek want dit is nie elke dag se groepering hierdie nie, maar Suiker is nie by ons nie. Hy is waaragtig steeds agter die geweer by die skiettafel en ek hol sommer een kant toe. Die man sal ons so waar as vet doodskiet sonder dat hy eers daarvan weet. Nee wat, stel Spokesperson my gerus, Suiker het net drie patrone gehad en boonop wil hy my sommer wed dat as ons by die skiettafel aankom Suiker al lankal weer sit en slaap. Ek wed maar eerder nie want Suiker het papiere vir slaap.

Daar aangekom is dit toe ook nie anders nie. Spokesperson en Tuindwerg het hulle hande vol om die slaapwandelaar weer op sy sitplek in die bakkie terug te kry. Einde ten laaste druk hulle hom sommer met die deur terug in die bakkie in. Ek loop kyk toe eers mooi na watse roer in staat is om so te groepeer. Dit het nie 'n naam nie. Glo vir hom gebou, maar die teleskoop herken ek as daardie wat soveel kos soos 'n goed opgepaste tweedehandse plaasbakkie. Ons ruim op en ek dink oor die volgende dag en hoe ons te werk sal moet gaan. Die manne soek 20 bokke. Man-man vyf. Met net vier gewere gaan dit 'n aand en 'n maand se werk afgee. Ek en Amos ry in stilte huis toe. Besig om die middag se dinge te probeer verwerk. Naby die huis se hy net: "Oubaas, daai dooie Baas loop vir vrek as hy eers gevat het", en ek kan sien hy is duidelik verleë oor die feit dat hy hom nie kon vang nie. Ek reageer nie en beduie net hy moet die volgende oggend sesuur klaar wees, toe ek hom aflaai.

In die kombuis is Vrou besig met aandete maar sommer met die intrap kan sy sien ek is bekommerd. Sy vra en ek vertel. Ja, maar wat het ek nou anders verwag van sulke "robbies" wil sy weet. Sy weet nie waarom ek sulke mense plaastoe nooi nie. Daar is meer as genoeg ander wat graag sal wil kom jag. Wel, hulle is nou hier en hierdie dag al reeds vyf treë te lank, so ek ja-vrou en nee-vrou maar saam, net om dit verby te kry.
Title: Re: Jagters van Malmesbury
Post by: Tripodmvr on Jun 22, 2025, 07:45 PM
Die manne van Malmesbury – Deel 3

Die volgende môre is ek en Amos oppad jagtershuis toe, maar my gemoed is swaar. Die manne is te min vir die kampe. Ons gaan sukkel. Ek sal die kleinste kamp eerste probeer, nie dat dit danig klein is nie. Boonop verwag ek om nog die klomp, al slapende aan te tref, maar groot was my verbasing om al vier van hulle, let wel, al vier, rondom so 'n oggendvuurtjie te sien staan met 'n koffie in die hand. Ek vra vir Amos of ek reg sien, maar ek word nader gewink en kry ook 'n lekker beker vuurwarm moerkoffie. Amos ook. Miskien is daar tog hoop. Nou rol die vrae en ek dink party antwoorde sommer uit, maar toe ek moet verduidelik presies hoe ver elke bok sal staan toe antwoord ek maar wat almal hierrond gewoonlik se: "Te ver."

Een moet bakkie ry en drie moet voorsit. Suiker is glo 'n bakkie-man van formaat, so hy ry saam. Omdat ons mekaar nou al van gister af ken vra ek hom sommer voor sy kop: "En wie gaan jou agterop wakker hou". Hy beduie vandag is hy skerp, en ek vermoed enige mens wat veertig dae en veertig nagte lank geslaap het moet iewers 'n skerp oomblik beleef. Ek vra of die manne wat voorsit reg is om te ry en hulle gaan wys my daar drie kontrepsies wat hulle skietstoele noem. Tot plek vir 'n lekker storieboek as die bokke bietjie skaars raak, beduie hulle. Kyk, toe wonder ek nie meer nie, toe weet ek. Vanaand hang hier maksimum vyf bokke as ons blerrie gelukkig is.

Amos laai en toe die drie "stoele " op is, is die plek agterop ook op. Drie klim voor by my in want die ou jagbakkie is nog een met 'n aanmekaar sitplek. Amos en Kuite staan-hang so aan die buitekant van die tralies. Ons laai vinnig af want hulle is min. Suiker is op sy plek agterop en beduie hy is gereed. Ek sal die kamp van 'n kant af werk om seker te maak ek druk die bokke by almal verby. Ons is nog oppad toe klop Suiker op die dak. Hy beduie ek moet die bakkie doodmaak, want dit bewe. Die bakkie vrek nog toe die skoot loop. Toe ek sien waar die bokke begin wegdraf toe weet ek sommer dit is mis want gin lewende wese kan sover raakskiet nie. Amos beduie egter ek moet bietjie vorentoe en stop my na so 100 meter. Daar trek hy toe veld in vir seker nog twee sabbatsreise met 'n vars perd, en sowaar as vet hy gaan sny keelaf en dra terug. Ek was stom verbaas en skud Suiker se blad.

So gaan dit aan en voor ons by die eerste man verbykom het Suiker klaar sy vyf springbokramme, met netjiese kopskote. Ek hoor ook van die ander manne skiet, maar binne die bakkie sukkel mens om die skoot te lees. Ons kom eerste by Spokesperson aan. Hy het ook vyf bokke. Netjies bymekaar gesleep in die koelte. Ek kyk na Bo want hier is die hemel se Genade vandag briekloos. Kuite het vier, maar is vol stof en gras toe ons daar aankom. Hy verduidelik hy moes bietjie skuins in die "stoel" sit vir die laaste skoot toe daardie 300 vir hom met stoel en al onderstebo stamp, maar die bok is morsdood. Hy beduie waar die bok le en Amos loop haal.

Wyl ons daar staan en bokke oopmaak ervaar ons iets van Suiker se Bloedivier. Die Tuindwerg is duidelik besig om uit selfverdediging alles te gee wat hy het. Sewe skote, "rapid fire" en toe word dit onheilspellend stil. Ek het geweet alles is net te goed om waar te wees. Dit is met 'n halwe hart dat ek daar in Tuindwerg se rigting werk. Hy stap ook sommer die bakkie tegemoet soos 'n man wat hulp soek met kwesbokke. Toe hy sy sin begin met: "Ek hoop nie Oom gaan vir my kwaad wees nie..." hoef hy niks verder te se nie, maar hy maak sy sin klaar met:"...maar ek het nou twee bokke te veel geskiet." Nou het ek alles gehoor, maar wil sien voor ek glo. Hy stuur ons in elke rigting denkbaar sommer met 'n afstandaanduiding inkluis: "Die kant toe 150m en reguit na daai randjie seker 350m." Ek vat die 350m een want waaragtig dit wil ek nie hoor nie ek wil dit self sien. Ek loop en loop en loop en toe ek 'n slag staan en omkyk beduie hy met daardie kort armpies ek moet vorentoe. Ek weet toe sommer wat hier aangegaan het. Hy het 'n naby kans gekry, agter die blad geskiet en toe het die bok gehol en hier kom vrek. By die bok aangekom gebruik ek die afstandsmeter en meet terug bakkie toe. Dit lees 297m. Om my eie teorie te bevestig soek ek waar die skoot sit. Ek wou net dink die ooi het haar dood geskrik toe ek die bloed by haar oor sien uitloop. Toe ek haar omdraai sien ek duidelik waar die skoot uit is en weet met so 'n skoot was sy dood waar sy gestaan het. Amos is by en ek weet hy het dieselfde som gemaak want al wat hy uitkry is: "Bleksam Oubaas."

By die bakkie bring ons Tuindwerg se sewende bok aan. Die res is van agter-die- bladskote, tot nekskote en kopskote. Niks is gemors nie. Tuindwerg beduie hy het gedink hy is in die Serengeti, want waar hy gekyk was daar bokke, en vra weer sommer so in dieselfde asem verskoning oor die ekstra twee. Ek is so bly hulle het so mooi geskiet dat ek sommer beduie die ekstra twee is op die huis omdat hulle my baie petrol en moeite gespaar het. Ek kyk op my horlosie net om seker die son is nie besig om vir my te lieg nie, maar my horlosie het blykbaar loop staan op kwart voor elf. Die ander se horlosies blykbaar ook.
Title: Re: Jagters van Malmesbury
Post by: Tripodmvr on Jun 22, 2025, 07:46 PM
Die manne van Malmesbury – Slot

So het die manne van Malmesbury se jag toe tot 'n einde gekom. Dit het op hierdie plaas nog nooit op een dag met so min gewere so voorspoedig gegaan nie en in my ydelheid dink ek dit is seker oor al gister se onheil dat die Voorsienigheid vandag so naby was. Oppad terug is dit nogal snaaks. Vanoggend moes almal voor in want die bakkie was agter kwansuis te vol. Nou is daar 22 spingbokke by, maar almal is agterop en Amos sit voor. Kastig oor hy moet hek oopmaak. Agterop weet ek nie wie veronderstel is om te luister nie, want almal praat gelyk. Die aand braai ons saam in die jagkamp. Vrou inkluis. Die druk is van almal af want die bokke hang netjies versorg en yskoud. Die manne is besig met sulke ondrinkbare rooi sap wat hulle Osbloed noem. Selfs Vrou vat 'n paar soetetjies daar uit die Oranje Rivier se wêreld. Wyl ons so kuier kom vra Kuite my iets skelm in die oor en ek beduie dit is goed, maar het geen idee wat hy daarmee wou maak en waarom hy skelm daarvoor moet vra nie. Later is Spokerperson aan die woord en almal kry iets te drinke oor wat hy of te goed of te sleg gedoen het. Daar is ook 'n "klippie-in-die-skoen-tyd" waain elke man mag aandui wat die ander gedoen wat hom pla. So sorteer hulle, hulle pyne met mekaar uit, op 'n mooi manier. Toe Spokesperson klaar maak, vra Kuite 'n spreekbeurt wat toegestaan word. Agter die stomp, waarop hy sit, haal hy die mooiste twee veldlelies uit en kom staan op sy een knie voor Vrou soos 'n man wat die jawoord wil vra. Met die lelies in sy uitgetrekte hande vra hy dat Vrou hom tog sal vergewe oor sy swak maniere van die vorige dag. Vrou vat sy hand, help hom regop en gee hom die druk waaroor ek nog net altyd gedroom het. En dit nogals oor my veldlelies..

Laat die aand, oppad huis toe kan ek sien Vrou is beindruk met die span manne, en die soetetjies maak klomp woorde los. Woorde soos gaaf, ordentlik, kerkmense en ons soort mense, kom sommer 'n paar keer op. Sy is sommer summier ook spyt ons het nooit 'n ou dogtertjie gehad nie, want die Gerhard (Kuite) sal darem voorwaar 'n voorslag skoonseun uitgemaak het. Siestog, dink ek by myself. Vrou sien ook nie gereeld nuwe mense of so baie soetetjies nie. Sy is skoon aangedaan.

Ja, die manne van Malmesbury, kom vandag nog, elke jaar hier jag en elke jaar lag ons van voor af oor die name wat hulle daardie eerste jag gekry het. Steeds kom hulle met dieselfde bakkie, want die bakkie ry net een keer per jaar en dit is hiernatoe. Ja elke jaar huil ons ook so bietjie. Die bakkie het aan Suiker behoort, maar Suiker kom al die afgelope twee jaar nie meer saam nie. Sy suiker het hom finaal ingehaal. Die bakkie het hy aan hierdie jagspan nagelaat en al wat daarop verander het, is in netjies fynskrif die woorde op beide voordeure wat lees
"Graspolinnihol Jagspan" met "Suiker se Bakkie" net onder dit. Vandag weet ek een ding. Al was my wegtrek met hulle nie so glad nie, hierdie manne van Malmesbury is 'n jagspan soos geen ander een ooit weer vir my sal wees nie.
Title: Re: Jagters van Malmesbury
Post by: Kola on Jun 23, 2025, 12:40 PM
Dit was nou 'n baie lekker lees, dankie.